Druiwekonfyt

Dit wil my voorkom of hierdie artikel baie gewild is onder lesers, daarom verfris ek dit so effe. Ek wil tog vra dat jy jou kommentaar oor die resep en konfyt sal gee sodat ek kan sien wat die lesers dink.

Wat is lekkerder as vars brood met ‘n dik laag druiwe konfyt vra ek nou?

Ek het vele kere hierdie druiwekonfyt gemaak en ek  moet dit met die manne en vroue deel.

Ja man, soos enige boere seun ken ek ook van braaivleis, dis in onse bloed, maar konfyt maak, nog nooit nie. Soos hulle seg, wie nie waag nie wen nie. Ons het nou ook so ‘n paar druiwe korrels en ek besluit daar en dan, Bloedbek jy gan jem maak, nes ouma, al weet ek net van jem eet, probeer gaan ek probeer. Eish en al moet ek self seg, dit is ‘n wenner.

Vir die manne der manne of dalk die vrou den vrou. Iets om te doen in plaas van sepies kyk, probeer hierdie maklike resep en laat almal met respekte daarna praat van jou of julle vaardigheid in die kombuis, dit kan selfs tot iets uitloop, wie weet.

Tools van die trade:

1. Druiwe en suiker

2. Groot pot

3. Skaal

4. Bottels so 6 bottels van verskillende groottes behoort genoeg te wees, as jy twyfel maak meer reg, liewer ekstra bottels  as te min. Laat jou vrou maar leiding gee daar.

5. Houtlepel vir die omroer en ‘n opskep lepel

6. Papbakkie of iets soortgelyk.

7. Tyd so twee ure daarvan

Nou hier volg die proses.

1. Druiwe: ek het die rooi tipe gebruik, so 2,5 kg druiwetrosse en dan moet die druiwe afgepluk word, ek haal nie die druiwe pitte uit nie, wel later tydens die gekokery sal dit wel gebeur. Weeg dan 2kg druiwe af om te gebruik en voordat jou vrou jou dit seg, spoel maar die korrels lekker af.

2. Suiker: 375gram vir elke 500 gram druiwe. Ek het op 2,5kg druiwe 1,875 kg suiker gebruik. Alles netjies afgeweeg op ma se kombuisskaaltjie.

3. Gooi die druiwe en suiker in die pot en meng goed deurmekaar, maar versigtig om nie die korrels te veel te verwoes nie.

4. Plaas die pot op ‘n plaat op ‘n baie lae hitte, vir so ‘n halfuur of totdat die suiker lekker gesmelt het.

5. Bottels. Sit jou bottels in die oond om dit warm te maak, skynbaar sal dit keer dat die bottels bars as jy die warm jem daar ingooi. Ek het dit maar so gedoen want ek wil my nie indink hoe lyk die kaste as die spulletjie moet bars en dis jem die hele wereld vol nie.

6. Sodra die suiker gesmelt is draai die hitte op maksium, ons stofie se plaat wys nr 6 en dan is dit behoorlik warm, as jy my nie wil glo nie, vat aan die plaat en voel dit. Die druiwe moet nou kook vir ‘n uur.

7. Met al die hitte onder die pot se gat gaan die spulletjie behoorlik borrel en bruis. Dit moet vir ‘n uur so kook. Moet nou nie dink jy gaan verder TV kyk nie, nou begin die werk. Sodra die spulletjie begin kook maak dit so ‘n lekker pienkerige skuim. Dit moet jy afskep en tussendeur so stadig roer, let wel stadig. Ek gebruik die papbak vir die skuim.  Blykbbaar sal ‘n hewige geroer sandsuiker veroorsaak, so, hou dit stadig. Maak ook voortdurend seker die affere brand nie, jy sal dit seker voel as die lepel nie lekker glad oor die pot se bodem gly nie en hou maar aan om die skuim af te skep, ek weet nie hoekom nie, maar ek is darem ook nou nie stupid nie, daarom aanvaar ek maar die raad.

Op ‘n stadium raak die skuim aansienlik minder en kook die jempies al te lekker en moet jy begin om die pitte te verwyder as jy nie pitlose druiwe gebruik het nie en skep dit uit. Ek is nie te veel gepla as daar wel pitte agterbly nie, dit maak die jempie net meer uniek. Na ‘n uur draai ek die plaat af, jy sal sommer sien die tekstuur van die druiwe lyk anders as in die begin, dit blink so en daar is geen skuim in sig nie, as daar bietjies skuim op die kante vorm sal dit seker niks wees nie. Die stroop is so lekker loperig , nie dik en taai nie, dit gly net lekker uit die lepel.

8. Al wat nou oorbly is om die druiwekonfyt te bottel, soos hulle seg. Ek het die opskep lepel gebruik om die druiwe konfyt in die bottels te gooi. Pas net op die bottels is warm en die jem ook, werk op koerantpapier sodat dit makliker is om skoon te maak na die tyd want dis maar ‘n taai affere. Maak die bottels behoorlik vol, want as dit afkoel is daar minder in as toe dit warm was, maar daardie stukkie wetenskap hoef ek seker nie te verduidelik nie. Sit die proppe op nadat dit goed afgekoel het. Die res los ek vir jou om te ervaar.

Ek het aan my se vrind ‘n bottel gegee en hy kyk met nuwe respekte na my. Sy vrou loer ook op ‘n anderste manier na my. Dit het amper gelyk of sy vir my knipoog, ag nee wat ek dink ek het my verbeel. Vroulief kyk ook anders na my, en ek het my nie verbeel nie.

Eish daai druiwe konfyt, dit werk man.

Nou toe spreek jou meing uit, ek wil nie jou gat lek nie, doen dit net, dis nou die beproef van die resep en die kommentaar!

13 Responses

  1. jou vrugte/ suiker vehouding is ook in die kol vir vye en arbei konfyt.

    • Olga die resep werk, ek weet, die konfyt is al lankal verorber en die kommentaar was dat dit great is. Ek sal maar by die druiwe konfyt hou, dis maar moeilik om nuwe vaardighede aan te leer, so ek los maar die ander soorte vir my vrou.

  2. Daar moet ‘n leemte in my opvoeding wees.

    Het nog nooit van druiwe konfyt gehoor nie. 😳

    En ken die Kaap glad nie… :mrgreen:

    • O nee Vlam van watter planeet is jy? Gaan dadelik uit en soek die konfyt by ‘n tuisnywerheid, niks met opvoeding te doen nie. Maar dan moet ek byseg net die annerdag gehoor van iemand wat glad nie konfyt eet nie, shame. En wie ken nou nie die kaap nie hehe.

  3. Die resep is perfek, so 2 eetlepels suurlemoen help vir sandsuiker en ‘n eetlepel botter help dat daar amper geen skuim is om af te skep nie. Groetnis

  4. Bloedbek……die klink na ‘n beproefde resep….gaan dit beslis probeer. Het Maandag Tamatiekonfyt gemaak….al moet ek self sê….uit die boeke uit lekker. Sal laat weet van my druiwekonfyt. Groetnis.

  5. Hi bloedbek! Die jêm! Ai! Sultanas maak die beste-este jêm. Volgende keer, as jy maak, gooi so ‘n 50c stuk droë gemmer in jou kooksel as jy begin , en skep dit na die tyd uit. Ek belowe jy sal nie spyt wees nie! (O, en jou ma se resep het gesê skep af die skuim, want skuim maak dat die jêm lelik lyk en nie blink nie)
    😉

    • Dankie vir jou bydrae Celeste. Dit gaan die resep nog beter maak. Ek het ‘n swakte vir soetgoed, maar druiwekonfyt “is to die for” op ‘n lekker skaapwagter sny witbrood, vars en nog warm is nog beter.

Lewer kommentaar