Onderhoud met ‘n Depressie Lyer

Meeste van ons besef nie wat ware depressie is nie, vir ons leke is dit iets wat onse breine nie kan verwerk nie. Want ons ken dit nie. Totdat ek met Blink Stefaans te doene gekry het nie. Dit het ou Bloedbek se oge laat rek!

Hier volg ons gesprek wat ek graag wil deel.

Bloedbek: “Blink Stefaans vertel vir my jou storie.”

Blink Stefaans: “Bloedbek, dis nie die swaarmoedige gevoel as die lewe druk nie. Nee, die ware Jakob, Major Depressie.”

Blink Stefaans het gegaan van Hero to Zero ….

“Maar laat ek voor begin.”

Kyk, Blink Stefaans was ‘n raakvatter en ‘n baanbreker. Die korporatiewe leer geklim teen die spoed van witlig. ‘n Familie wat floreer op komplimente, talentvolle en gemanierde kinders. ‘n Voorbeeldige egpaar wat hulle kant bring in die gemeenskap.

Verstommend hoe skielik die lewe van vreugde kan verander in ‘n eindelose nagmerrie.

Die jaar is 2009 en begin soos elke ander jaar. Die vooruitsigte is rooskleurig, soveel om te doen, daar word selfs beplan om ‘n nuwe huis te bou op daardie erf. MAAR dan gebeur dinge vinnig en ongemerk te verander. Ou Blink Stefaans besef iets is verkeerd, maar kan nie sy vinger daarop leg nie. Hy begin vreemde dinge doen. Onttrek hom uit die gemeenskap, raak ‘n kluisenaar, onttrek uit die kerk. Vervreem sy vriende, wat eintlik maar meeste net kennisse was, want in moeilike tye leer jy jou ware ware vriende ken. Hy begin wortsel met homself. Iets is fout, geen meer sport, niks is positief nie, alles lyk hopeloos. Sy besigheid is besig om uitmekaar te val. Hy stry steeds voort.

Die realiteit tref hom, hy het hulp nodig, MAAR waarvoor en hy soek. Blink Stefaans is nie die tandpyn en pille soort nie. Maar hier diep binne hom begin hy sien hoe alles rondom hom in duie stort. Steeds volg hy dieselfde roetine in die openbaar, behalwe dat, as hy die kans kry, loop skuil hy binne homself. Vroulief raak bekommerd, kinners raak bekommerd, die atmosfeer in die huis raak somber. Soms huil ou Blink Stefaans daar in sy kantoor waar niemand hom kan sien nie. Hy raak erg geirriteerd met alles, maar dit gebeur alles waar niemand dit kan sien nie, of so dink hy, want dit beinvloed almal, die meeste sy familie, sy vrou is moedeloos en bang. “Mens hoor gereeld van mense wat hulle aan drank vergryp. Dank Vader dit is my gespaar, ek het my aan my kantoor vergryp, maar hoe harder ek gewerk het hoe minder sukses het ek behaal, ‘n “downward spiral””.

Ou Blink Stefaans, blink nie meer nie hy raak ‘n skaduwee van homself. Dis net sit en en sit en sit. Niks, absoluut niks maak meer sin nie. Sy analitiese persoonlikheid dryf hom om te soek na die oorsaak van hierdie lee, somber gevoel. Hy doen baie navorsing en ook ander dom dinge, om hierdie lee en swart gevoel te verberg, dit terwyl almal rondom hom kan sien daar is groot fout. Ou Blink Stefaans stry steeds. Dan gebeur die ergste. Hy moet ‘n uitkoms vind….

Die internet is goed en sleg. Deur sy navorsing en soeke besef hy dit moet depressie wees, maar dit kan nie wees nie. Blink Stefaans is nie die depressie tipe nie. Die alternatief is die beste, terwyl hy nog kan, want nou begin alles te erg raak. “Vroulief het die rol van pa ook oorgeneem. Iemand moet die lysels vashou. Vroulief is nou die besluitnemer in die huis. Sy dra almal en alles se las. Ek kan sien sy trek swaar, sy huil ook, maar ek is ‘n nutcase en totaal onbeholpe, byna nonchalant, oor dit wat besig is om in my huis te gebeur.”

Ou Blink Stefaans het nie meer krag vir die geveg om te oorleef nie. Hy kruip in sy donker kantoor weg, waar hy veilig voel. Hy het self blindings aangeskaf om die laaste ligstraal uit sy kantoor te hou. Dit moet rondom hom lyk soos hy binne voel, swart en donker. Al wat hom keer om die finale stap te neem is sy gesin, hulle het hom nodig, wel nie eintlik nie. Dis meer ‘n kwessie van wat gaan die mense dink as hy nou van homself ontslae raak. Die selfmoord ding, iets wat hy self nie hardop wil seg nie maar wil uitskree. “Huil help nie, ek doen dit om te keer dat ek ontplof. Bid help nie, maar steeds doen ek dit en meeste van die tyd is dit ‘n trane dal. Ek het feitlik geen beheer oor my emosies nie. My kop voel soos ‘n teerpad tydens spitsverkeer.” Ou Blink Stefaans is alleen, of so dink hy. Hy besef nie hoe dit sy gesin raak nie. Die man wat ‘n plan gehad het vir enige hindernis, is nou stil, weg. Die ligte is aan maar die huis is leeg. Sy beursie is leeg, maar steeds is hy op soek na ‘n uitweg. Tussendeur hoop hy hierdie is ‘n tydelike probleem, dinge sal weer beter gaan. Maar dit verander nie dit raak net al hoe erger. Ou Blink Stefaans is op die punt om die stryd te verloor.

Tot vandag toe weet ou Blink Stefaans, wat nie meer blink nie, hoe hy dit reggekry het om die energie bymekaar te kry om sy dokter te gaan sien nie, want hy was reeds verby die punt van geloof en hoop. Maar dit moet net genade wees, groot genade wat hom gedra het. Want dit was ‘n kwessie van tyd voordat hy gaan selfmoord pleeg, alles is reeds in orde, al wat kort is die energie, en die regte geleentheid om die daad te pleeg, om stilweg die tydelike met die ewige te verruil. Opsies 1 en 2 en 3 of 4, klaar reg. Niemand en niks tel meer nie, dis nou pik giet swart donker, binne en buite.

Vir ‘n laaste keer sit hy sy masker op, met moeite, eintlik net sodat die mense nie kan se hy het nie probeer om iets aan sy toestand te doen nie en trek hom neer in die stoel voor sy dokter se lessenaar. Die dokter praat en vra en hy antwoord. Sulke kaartjies wat bepaal of jy depressief is, Hy ken die antwoorde, hy het dit reeds lankal op die internet opgespoor, Die een vraag wat Dok hom nie vra nie is: “Het jy al selfmoord oorweeg?” Hy vra sommer vir dok oor die laaste kaartjie wat hy dan nie oor wil uitbrei nie. Eintlik ‘n sieniese vraag, om die dokter uit te lok. “Ag Dok ek ken daai antwoord ook, dis die selfmoord vraag en die antwoord is ja!” Dok was oorbluf en effe geskok, want dis nie hoe hy sy vriend ken nie, die ewige optimis, die planmaker en staatmaker, die man wat nooit nee seg nie.

Iewers het Blink Stefaans gelees van Psigiaters en dring terstond daarop aan om een te sien, want hy is besig om mal te raak en psigiaters is mos vir mal mense. “Dank vader ek het dit reggekry om Dok te oorreed dis tyd vir ‘n psigiater, nie pille of  ‘n sielkundige nie. Daar is iets groot fout, my kop raas, letterlik en figuurlik en dit kort drastiese stappe. Hoe min het ek op daardie stadium besef wat ‘n belangrike rol die psigiater in my herstel gaan speel en my persepsies oor psigiaters is ook later verkeerd bewys. Dankie Vader vir Psigiaters.”

“Dit was nog twee maande van hel voordat ek die psigiater kon sien, donkere hel.  Intussen het ek my menswaardigheid verloor, my selfvertroue en stadig maar seker ook bates bates. Dit was hel om te sien hoe ek alles verloor en tog magteloos is om daarteen te veg.” Blink Stefaans se oge raak blink van die trane toe oor daardie deel praat. Dit moes bitter swaar wees om dit waarvoor jy so hard gewerk het te sien gaan.

Ou Bloedbek kry self ook ‘n knop in die keel. Om te dink daar is soveel wanpersepsies oor ‘n siekte wat enigeen van ons kan tref. Hier sit ‘n man voor my wat deur hel gegaan het. In ‘n wereld waar daar nie plek is vir emosies, gevoelens en medemenslikheid nie. Hoeveel is daar buite wat ook deur daardie hel gaan? Alleen. Dit terwyl daar wel hulp is!

Ou Blink Stefaans se eerste paar besoeke by die psigiater was  gevul met geweldige emosie. “Bloedbek, die psigiater wou my terstons laat opneem vir behandeling, maar ek het nie daarvoor kans gesien nie, weereens, nog meer skindernuus vir die mense. Dit was snot en trane, sommer baie. Sedert my eerste afspraak het ek wel weer so ‘n paar insinkings gehad, maar die laaste jaar lyk dinge beter, baie beter.”

Ek sit so by myself en dink terwyl ou Blink Stefaans met my gesels. Hoe wonderlik is ons mediese tegnologie darem. Jare gelede sou hierdie man waarskynlik selfmoord gepleeg het, terwyl daar hulp beskikbaar is.

Onkunde en wanpersepsies vir net nog ‘n siekte, ‘n depressielyer onder behandeling is net soos iemand wat aan hoebloeddruk of suikersiekte ly. Psigiaters is nie hierdie vreemde karakters wat in jou kop krap om jou denke te verander nie. Dis Godgegewe mediese spesialiste wat depressie beveg soos enige ander siekte.

Depressie lyers is normale mense, wat ‘n kroniese siekte het, met emosies en gevoelens nes ek en jy. Ons moet meer kennis inwin om die persepsies te help afbreek.

Ou Blink Stefaans is weer besig om sy glans terug te kry. Hy het ‘n nuwe besigheid begin en is weer besig om beheer van sy sake en sy gesin te neem.

“Bloedbek, dit was moeilik, baie moeilik, dit wat my gesin deurgemaak het is die ergste, dit het ons as gesin en individue verander, ten goede en ons nader aan mekaar gebring, dit het my die lewe met ander oe laat sien. Dit het ons totaal verander. Ek leef nou ligter en waardeer my vrou en kinders meer.”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: